Geestelik Blind (2)

Baie mense is geestelik blind weens hoogmoed of omdat hulle kies om net dit te sien wat hulle wil sien. Die vreesaanjaendste rede egter hoekom mense nie kan sien nie is omdat hulle onder God se oordeel staan! Dis reg, die rede hoekom hulle nie kan sien nie, is ‘n duidelike teken van die ergste oordeel wat enige mens kan toekom – blindheid wat deur God opgelê word.

Toe die dissipels vir Jesus gevra het hoekom hy in gelykenisse spreek, het Hy met ‘n aanhaling uit Jesaja 6:9-10 geantwoord (Matteus 13:14; Markus 4:12; Lukas 8:10; Johannes 12:39). Hierdie moet ‘n baie belangrike aanhaling wees want dit verskyn nie net in al vier die Evangelies nie, maar ook in ‘n aantal ander boeke. In Johannes het Jesus hierdie vers as volg aangehaal: “God het hulle oë blind gemaak en hulle verstand laat afstomp sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie” (Johannes 12:40).

Ek sal dit parafraseer indien jy dit moeilik vind om te verstaan: “ God het hulle verblind sodat hulle nie kan sien of verstaan nie.” Maar hoe doen God dit en is dit regverdig? God het Israel verblind omdat hulle God se Woord voortdurend verwerp het. God het toe opgegee om te probeer om Homself aan hulle te openbaar. Blindheid is God se oordeel op ‘n rebelse en ongehoorsame volk.

Ons weet almal dat God Israel verwerp het en Homself na die heidene gewend het (vir ‘n rukkie). Hy het dit gedoen omdat Israel Hom verwerp het. Maar nou waarsku Hy die heidene dat hulle versigtig moet wees. Hy het streng met Sy eie mense gewerk en daarom gaan Sy oordeel oor ons net so streng wees. Anders as Israel, kan ons, om mee te begin, nie eens aanspraak kan maak op Sy beloftes nie (Romeine 11:21) – die aanhaling uit Jesaja 6 verskyn ook in Romeine 11. Die waarskuwing aan die heidene is dat indien God Israel kon verblind, Hy ook die heidene kan, en sal, verblind as hulle nie Sy Woord ontvang en daaraan gehoorsaam is nie.

Dit is dan presies die rede hoekom sommige mense, selfs Christene, doodeenvoudig nie die boodskap kry nie, maak nie saak hoeveel jy dit aan hulle probeer verduidelik ten einde hulle te oortuig dat hulle moet verander nie. Hulle is verblind en staan onder God se oordeel. Dit is ‘n verskriklike plek om te wees. Daar is twee vorme van God se oordeel: Sy tugtiging en Sy oordeel. Ons sien die werking hiervan in Israel, maar ook in die Nuwe Testament. So lank as wat God iemand tugtig is daar nog hoop vir hom want Hy probeer nog om die persoon tot bekering en verandering te bring. Maar daar is geen hoop meer wanneer Hy opgee en hulle nie meer tugtig en selfs nie eens meer met hulle praat nie.

Daar is nie hoop vir sulke mense nie want as God opgehou praat het, en die Heilige Gees hulle nie meer oortuig nie, dan is daar geen manier wat hulle kan bekeer nie. Hulle kan hulle nie self bekeer nie aangesien hulle nie die nodigheid daarvan insien nie – hulle is in hulle eie oë volmaak. Jesus het in raaisels en gelykenisse gespreek omdat Hy nie wou hê dat die Fariseërs moet hoor of verstaan nie. Wanneer Hy ‘n uitleg gegee het, het Hy dit dan ook net aan die dissipels gegee (Matteus 13:13-17).

Net soos wat die Fariseërs vir Jesus geoordeel het, en alles veroordeel het wat Hy gesê en gedoen het, is daar vandag moderne Fariseërs wat dink dat hulle die enigstes is wat die “lig” het. Hulle oordeel en kritiseer dan daardie gelowiges wat aan die Here en Sy Woord gehoorsaam is. Ongelukkig kan niks hulle oë oopmaak nie. Selfs die feit dat Jesus gesterf, en weer opgestaan het, was nie genoeg om die Fariseërs se oë te open nie. Niks wat jy sê of doen sal daarom ooit die oë oopmaak van hulle wat deur God blind gemaak is nie.

Om hulle te probeer oortuig dat hulle in die duisternis is, is ‘n mors van tyd want hulle gaan net dink dat jy mal is. Daarenteen, enige iets wat jy probeer doen om hulle oë oop te maak, werk teen God en sal nie slaag nie. Al wat ons vir sulke mense kan doen is om te bid dat die Here hulle genadig sal wees en die skille van hulle oë sal laat afval. Net God kan die gevolge van hierdie verskriklike vorm van oordeel omdraai.
Laat my ook toe om jou te waarsku dat jy versigtig moet wees oor hoe jy oordeel. Dit is maklik om die splinter in ‘n ander se oog te sien en die oordeel waarmee ons oordeel sal ook op ons toepassing vind (Matteus 7:2 ev.). Ons almal het al mense teëgekom wat in die donker rondval omdat hulle dink dat hulle kan sien terwyl dit duidelik nie die geval is nie. Dit dien as ‘n waarskuwing vir ons dat ons versigtig moet wees anders bevind ons onsself onder die oordeel en in daardie duisternis.
Daar is ‘n paar dinge wat ons kan doen om te keer dat dit met ons gebeur.

Eerstens moet ons sensitief wees vir die inspraak van die Heilige Gees. Elke keer wat ons die stem van die Gees weerstaan wat ons probeer oortuig, word ons al minder en minder sensitief daarvoor en word ons ‘n bietjie meer blind. Die Gees het nie die eerste keer wat Simson met die sonde gespeel het, hom verlaat nie, maar geleidelik het hy al minder sensitief geword vir die verskil tussen reg en verkeerd en al meer arrogant en self-voorsienend, totdat hy nie meer die versoekinge en lokvalle kon onderskei vir wat hulle werklik was nie.

Tweedens moet ons gehoorsaam wees aan elke inspraak van die Woord en die Gees. Ongehoorsaamheid lei tot die verharding van ons harte en ‘n verminderde vermoë om geestelike kwessies te onderskei vir wat hulle werklik is. Jy het miskien al van die TV programme gesien oor mense se huise wat ‘n vuil gemors is en gewonder hoe dit enigsins kon gebeur het. Mense se huise verval in ‘n rampgebied omdat hulle blind is vir die klein gemorsies. Uiteindelik leer hulle om beide die klein gemorsies, sowel as die groot gemors waarin hulle huis verval het, mis te kyk. Op dieselfde manier leer mense om die klein sondetjies in hulle lewens mis te kyk en wanneer dit alles saamkom en groter sonde word, is hulle al goed geoefen om nie die gemors te sien waarin hulle lewens verval het nie. Hierdie is somtyds ‘n baie langsame proses maar die gevolge is rampspoedig.

Derdens moet ons bereid wees om teregwysing en kritiek ter harte te neem. Moenie net aanvaar dat kritiek nie op jou van toepassing is nie. Neem dit na die Here en vra Hom of daar enige waarheid daarin is. Indien wel, bely dit onmiddellik. Wanneer ons die klein waarskuwingstekens ignoreer, word dit makliker om die groteres ook te ignoreer. Wanneer ons die gewoonte aanleer om alle teregwysings van ons af te skud, sal ons spoedig in onvermoë wees om daardie boodskappe te hoor wat die Here deur ons broeders en susters na ons stuur. Hanteer elke woord van kritiek as ‘n moontlike waarskuwing van die Here. Verwerp dit slegs nadat jy daaroor gebid het en absoluut seker gemaak het dat daar geen waarheid daarin is nie. As ons dit nie doen nie, gaan ons kritiek outomaties en onmiddellik verwerp sonder om eers daarna te luister. Bowenal gaan ons ook die boodskapper aanval wanneer die boodskap ons nie pas nie.

Laastens, bid voortdurend dat die Here jou oë mag open sodat jy selfs daardie dinge sal sien wat jy nie wil sien nie.

Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle sê toe vir Hom: “Here, dat ons oë oopgaan.” Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.” (Matteus 20:32-34)